Ons Leraars

Ons is bevorreg om twee voltydse predikante te hê wat verantwoordlikheid neem vir eredienste en pastorale versorging in ons gemeente.

Neem asseblief die vrymoedigheid om vir Ds Peter of Ds Gawie te skakel indien daar ‘n behoefte, probleem en/of krisis is waarmee jy hulp benodig.

Fokus van ons leraars:

  • Eredienste elke Sondag en op spesiale Christelike dae (b.v. Kersdag, Goeie Vrydag ens.)

  • Nuwe intrekkers

  • Huisbesoek op ‘n deurlopende basis

  • Pastorale versorging

  • Belydenis klas en kategese 

  • Doop gesprekke en huweliksvoorligting

  • Gesprek geleenthede met die fokus op geestelike toerusting en groei

  • Nagmaal bediening kwartaalliks en aan huis waar nodig

  • Toerusting van ons Bybelstudie groepe

Ds Peter Malan

Ds Peter is een van vier kinders en is in Barkly-Wes gebore. Hy het in 1980 gematrikuleer aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein en het later, in 1989, sy Magister Graad in Teologie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat voltooi. Gedurende sy studiejare het hy vir Lizelle van der Walt ontmoet, en hulle is in 1984 getroud. Hulle het vier kinders. 

Van 1992 tot 2002 het Ds Peter as leraar by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark gedien. Van 2002 tot 2012 het hy saam met die Kingfisher Mobilisering Sentrum gemeentes gemobiliseer en van 2012 tot 2019 was hy betrokke by netwerk en gemeenskapsontwikkeling as uitvoerende direkteur van Helplift Netwerk. In 2023, het hy die beroep aanvaar om leraar van ons gemeente te word.

Ds Peter is passievol om mense te inspireer en bemagtig om 'n betekenisvolle lewe te lei, gedrewe deur hul liefde vir Jesus. Sy begeerte is om hier, saam met medegelowiges, in Wes-Australië die Here te verheerlik.

Kontak vir Ds Peter

Tel: +61 413 896 878

Epos: ds.peter@parc.org.au

Ds Gawie van der Merwe

Ds. Gawie van der Merwe, gebore in Jagersfontein en groot geword in Witsieshoek waar sy pa 'n mediese dokter in die Sending hospitaal was. Hy het in 1968 aan Retief Hoerskool te Kestell gematrikuleer. Hy het Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en later 'n Meestersgraad in Missiologie aan die Universiteit van die OVS behaal. In 1975 het hy met Wilna Wiid, wat Maatskaplike Werk aan Stellenbosch gestudeer het, getrou.  Hulle het vier kinders, waarvan een in 1997 oorlede is.

Hy is in 1977 in die Stilfontein NG Kerk in Afrika bevestig en het begin werk onder 87,000 trekarbeiders. In 1980 het hy leraar van die Ventersdorp NG Kerk in Afrika geword. Van 1983 tot 1997 was hy sendeling onder die Herero in Okakarara, Namibië, en het as Algemene Sekretaris vir die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Afrika gedien. Van 1998 tot 2006 het hy in die NG Gemeente Potchefstroom Oos en later Potchefstroom Grimbeekpark diens gedoen, met fokus op uitreik. In November 2006 het hy begin met ‘n uitreik bediening in Perth, Australië, eers as gestuurde van die NG Kerk Potchefstroom Grimbeekpark, maar later as leraar van Outreach WA gemeente.

Kontak vir Ds Gawie

Tel: +61 415 846 599

Epos: ds.gawie@parc.org.au