Outreach WA - Gemeente van die GEKA

‘n Geestelike Bediening op die Platteland van Wes-Australië

Outreach WA is in 2006 begin as ‘n gesamentlike Uitreik bediening tussen die NG Kerk Potchefstroom Grimbeekpark en die Perth Afrikaans Reformed Church in Perth. Die fokus sou wees om soveel as moontlik Afrikaanssprekendes op die platteland in Wes Australië te bereik met die Evangelie van Jesus Christus. Hulle moes pastoraal begelei word te midde van ‘n moeilike immigrasie proses en opgebou word in hul geloof, sodat hulle ook as getuies vir Christus kan funksioneer in die Wes Australiese konteks. Waar moontlik, sou ook gemeentes gestig word om so die kerk van Jesus Christus uit te brei.

Ds Gawie en Wilna van der Merwe het die werk begin in Desember 2006 en vanuit Perth begin kontakte opbou, en dienste gereël vir Afrikaanssprekendes op die platteland van Wes Australië. Ds Gawie was kerkregtelik verbind aan die kerkraad van die Perth Afrikaans Reformed Church (bekend as PARC) en waar jongmense op die platteland belydenis van geloof afgelê het, het hulle lidmate van PARC geword. Dieselfde het gebeur met babas wat gedoop is op die bedieningspunte in die platteland.

Met die stigting van ‘n  Australiese Denominasie nl die Gereformeerde Evangeliese Kerk van Australie (GEKA) op 16 Maart 2009  het Outreach WA as ‘n bediening, ‘n volwaardige lid van hierdie Kerkverband geword.  

Die werk het uitgebrei en kon die Afrikaanse geloofsgemeenskap in Bunbury begelei word om hulle eie gemeente (Bunbury GEKA gemeente) te stig op 18 Oktober 2009 en ook so die geloofsgemeenskap van Geraldton op 24 Junie 2012 (Geraldton GEKA gemeente). Beide nuwe gemeentes het hul eie predikante beroep en deel geword van die Gereformeerde Evangeliese Kerk in Australië.

Op een stadium was daar 12 bedieningspunte in Wes Australië wat op gereëlde basis bedien is met eredienste en pastorale besoeke

Outreach WA as Volwaardige Gemeente van die GEKA.

Op 22 Julie 2020 het die Outreach WA bediening oorgegaan tot die vorming van die Outreach WA gemeente met nou ‘n verkose kerkraad in beheer van die gemeente. Enige persoon in Wes Australië kon voortaan aansoek doen om lidmaatskap en het die gemeente baie beter gestruktureerd begin funksioneer.

Met die begin van ‘n vaste bedieningspunt in Perth op 7 Maart 2021 wat bekend staan as PAK (Perth Afrikaanse Kerk) het daar nuwe momentum gekom en het die mense vanuit die platteland ‘n ankerpunt van die gemeente in Perth beleef. As hulle 'n naweek in Perth moet wees kan hulle hier inskakel by die erediens.

Tweede Voltydse Predikant

Met die bevestiging van Ds Peter Malan op 3 Maart 2024 het daar verdere momentum gekom en kon Ds Peter groter verantwoordelikheid vir die lidmate in Perth aanvaar en Ds Gawie meer konsentreer op die platteland. Ds Peter is egter ook betrokke by enkele dienste in die platteland en Ds Gawie is dan verantwoordelik vir die diens in Clarkson, Perth as Ds Peter op die platteland bedien.

Bedieningspunte op die Platteland:

Tans is daar die volgende nege bedieningspunte in die Platteland van Wes Australië:

  1. Geraldton

  2. Northam

  3. Narrogin

  4. Katanning

  5. Albany

  6. Hyden

  7. Varley

  8. Kalgoorlie

  9. Esperance

Indien jy of iemand wat jy ken, ‘n behoefte het om in te skakel by enige van die bedieningspunte, kontak vir Ds Gawie vir meer inligting.