Ons Storie

Perth Afrikaanse Kerk, ‘n Geestelike Tuiste in Wes-Australië

Perth Afrikaanse Kerk (PAK) is ’n gemeente van Outreach WA en ’n lid van die Gereformeerde Evangeliese Kerk van Australië (GEKA). PAK het ontstaan vanuit ‘n groot behoefte van ‘n groep Afrikaansprekende mense in die Noorde van Perth vir geestelike versorging. Daar was ‘n behoefte aan ‘n geestelike tuiste wat missionaal gerig is om meer kerklose Afikaanssprekendes te bereik. Terselfdertyd dien die Perth Afrikaanse Kerk as ‘n anker punt vir al die bedieningspunte van Outreach WA op die platteland van Wes Australië. Indien mense van hierdie bedieningspunte Perth besoek, bied dit ook aan hulle die geleentheid om hier plaaslik eredienste by te woon. Die eerste erediens by ons het plaasgevind op 7 Maart 2021.

As ’n Afrikaanssprekende gemeente bestaan ons tot eer en verheerliking van God, deur Jesus Christus en onder die leiding van die Heilige Gees. Ons is passievol oor die ondersteuning van nuwe immigrante wat in Australië aankom, en bied hulp aan met die aanpassingsproses sowel as die trauma wat dikwels daarmee gepaard gaan.

Aan die begin van 2024 is die vraag gestel: “Wat beteken ’n Geesvervulde lewe?” Dit het die vertrekpunt geword van die bediening in die gemeente. Ons het opnuut tot die besef gekom dat “Ons bestaan en ons hierwees is om God te eer.”

PAK Eerste Diens - 7 Maart 2021

Ons heel eerste erediens op 7 Maart 2021 waar Ds Peet Grobbelaar gepreek het uit Lukas 8:4-15.

Die Kultuur van die Gemeente

Die kultuur van die gemeente in Perth spruit uit die wedersydse liefde van plaaslike Afrikaanssprekende Christene. Almal het ’n diep begeerte om die Here se koninkryk op ’n praktiese wyse in die Australiese konteks te vergestalt. Daarom is die gemeente se embleem ’n Kruis en ’n Koringaar. Die slagspreuk wat die gemeente verenig en vorentoe dryf, is: “Uit die kruis kom groei, versorging en nuwe lewe.” Lees meer oor die embleem elders op ons webtuiste.

Uitdaging, Visie en Missie

Die uitdaging vir ons as die Perth Afrikaanse Kerk, is om mettertyd alle lidmate toe te rus vir ‘n lewe om, soos die Here, mekaar en ander onvoorwaardelik lief te hê. Dit gebeur deur die oordra en internalisering van ‘n duidelike Koninkryk visie, waardes en leefstyl. Lewens transformasie is tot die eer van Christus en die koms van God se koninkryk in die samelewing en sal altyd die fokus en uitkoms wees van alle bedieninge, geleenthede en aksies van die gemeente.

Ons Embleem

Die groen kruis loop met ‘n fokus van bo na onder. So fokus God op ons elkeen individueel en wil Hy met elkeen van ons in ‘n baie persoonlike verhouding staan. Hy stel in elkeen van ons as unieke mens belang.

Die goue kruis loop met ‘n fokus van onder na bo. So moet ons lewe op God gefokus wees.  Hy leef in en deur ons.  Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Daar is twee horisontale bane wat beteken ons persoonlike verhouding met die Here ‘n twee rigting verkeer is. God maak bemoeienis met ons, maar soos in enige verhouding werk dit net as ons ook ons self gee in die verhouding met God.  

Die kruis is sentraal en alles vloei van vanuit die kruis. Die Vader se groot liefde vir ons kom tot volle uitdrukking in die kruisdood van Christus. Ons verhouding en pad met God kom vanuit die kruis. Uit die kruis kom – die Koringaar verwysende na groei, onderlinge versorging en ‘n nuwe lewe.